NOT FOR PROFIT | REGISTRATION NUMBER: 2009/004578/08 | SARS REFERENCE: 9208/576/17/4
ARTIKELS OOR DWELMVERSLAWING
Help, want dit kan jóu kind wees.
Hierdie artikel het oorspronklik in Beeld verskyn - Nov 25 2008 09:13:28:977AM - (SA)
Sylvia van Zyl (Beeld)
Dwelmverslaafdes is iemand se seun of dogter, nie net nog ’n statistiek nie.
Dít is die boodskap wat Petri Botha, stigter van die Adopt a drug addict-projek, by Suid-Afrikaners wil tuisbring.
“Ongelukkig kan ons nie die dwelmhandelaars keer nie, maar ons kan die kinders help wat in daardie strik vasgevang is,” vertel Petri, wat self hierdie moeilike paadjie gestap het en juis dáárom met die projek begin het.
“My seun was ook ’n dwelmverslaafde. Ek het gesien hoe dit ’n gesin heeltemal kan vernietig. Gelukkig kon ons dit bekostig om hom in ’n rehabilitasiekliniek te laat opneem, maar daar is soveel gesinne wat net eenvoudig nie die geld het nie. Daardie kinders word dan aan hul eie genade oorgelaat.”
Met die projek het Petri nou al genoeg geld ingesamel om agt kinders landswyd in rehabilitasieklinieke te laat opneem.
“Ek is so dankbaar dat mense hierdie projek ondersteun. My seun het ’n tweede kans in die lewe gekry. Daar is egter soveel ander jong kinders wat nie so gelukkig is nie.”